|
|
|
'n Paar uur na die moord op Retief en sy mense, het die Zoeloeleer Umgungundlovu verlaat op pad na die Trekkerlaer onder die Drakensberge. Die Trekkers het nie eens 'n voorgevoel van gevaar gehad nie. Nuus van die slagting het egter gou versprei na die ivoorjagters by Port Natal. Dick King het dadelik gejaag om die Trekkers te gaan waarsku maar die Zoeloes het hul doelwit bereik lank voordat hy van die kus af by hulle kon kom. Die aand van die 16de Februarie het die Trekkers rustig in hul verskeie kampe gaan slaap. Dit was 'n donker nag sonder maanlig. Omtrent eenuur die nag is Daniel Bezuidenhout gewek deur die woedende geblaf van sy honde. Hy het drie of vier kwaai honde gehad wat daar niks van gemaak het om 'n luiperd uitmekaar te skeur nie. Met die vermoede dat 'n wilde dier hulle miskien wou aanval, het hy opgestaan om te gaan kyk. Onmiddellik het hy die gefluit van assegaaie en die geklap van skilde gehoor. Bezuidenhout het in sy spore omgedraai en waarskuwings aan die ander mense in die kamp geskree - maar hulle was reeds omsingel. Bezuidenhout is herhaalde kere met assegaaie gesteek maar het dit reggekry om tussen die vee wat intussen wakker geword en onrustig rondgemaal het, in te spring. In die kamp het almal, insluitende die vroue en kinders, gesterf. Dwarsdeur daardie donker bittere nag is die een Trekkerlaer na die ander aangeval. Sommige mense het wonderbaarlik aan die dood ontkom en deur die Zoeloe-linies gekruip om in die bosse en koppe 'n skuilplek te vind. 'n Groep Italiaanse handelaars wat met drie waens as mobiele winkels die Trekkers vergesel het, het aan die dood ontkom deur op perde sonder saals te spring en deur die Zoeloes te jaag. Een van hulle, 'n meisie wie se naam Therese Vigliome was, het na verskeie Trekkerkampe gery om hulle te waarsku en daarna self na veiligheid gejaag. By 'n stroompie, wat daarna as Moordspruit bekend was, het 'n verbete geveg plaasgevind. Die Bothma's wat daar saamgetrek was het hulself moedig verdedig en teruggeval na 'n plat koppie, waar hulle oorweldig is toe die Zoeloes 'n trop paniekerige beeste deur hul geledere gejaag het. 65 Trekkers en baie Zoeloes het op daardie koppie gesterf.
Bloukrans, Van Rensburgspruit, Weenen en baie ander plekke het daardie nag 'n bloedige geveg beleef. Gelukkig het die hewigheid van die gevegte baie ander kampe in die verte op hul hoede gestel. Verskansings is haastig opgerig en vuurwapens is in gereedheid gebring. Die Zoeloes het al groter teenstand gekry hoe verder hulle gegaan het. Die krygsmanne was ook moeg van die lang trek. Teen dagbreek het hulle teruggeval in die donker skaduwees van die valleie. Hulle het 25,000 stuks vee van die Trekkers saamgeneem terwyl huIle 500 dooie makkers agtergelaat het, sowel as die lyke van 41 Trekkermans, 56 vroue, 185 kinders en 250 bediendes wat sy aan sy met hul base geveg en gesterf het. Een van die droewigste dae in die Trekkergeskiedenis het aangebreek. Oral het mense tussen die dooies na die lyke van hul geliefdes gesoek. HuIle was nog so oorbluf dat niemand presies kon vasstel wat gebeur het of wie die aanvaIlers was nie. Eers toe Dick King die volgende dag op die toneel verskyn, het hulle gehoor van die moord op Piet Retief en sy mense en het huIle die volle gruwel van Dingaan se verraad besef. Dit het die Trekkers vir 'n lang tyd verward en onseker gelaat. Die sendelinge het uit die land gevlug; by Port Natal het die ivoorhandelaars huIle op Salisbury-Biland gaan ingrawe en hulle voorgeneem om by die Trekkers aan te sluit ten einde weerwraak teen die Zoeloes te neem. Die nood het die Trekkers gedwing om so spoedig moontlik te reorganiseer en in verdedigende laers saam te trek, terwyl boodskappers ver en wyd gestuur is om versterkings en hulp te ontbied. Piet Uys en Andries Hendrik Potgieter wat nog met hul trekke op pad na Natal was, het voortgehaas om hul mede-trekkers te gaan help. 'n Patrollie is na Port Natal gestuur om die samewerking van die ivoorhandelaars te vra en teen-aanvaIle vanaf die kus, sowel as die binneland, is beplan. Altesaam 347 man is op die been gebring vir die groot offensief teen die Zoeloe- magte. Ongelukkig het die moord van Retief die Trekkers sonder 'n sterk leier gelaat. Maritz, Uys en Potgieter, die drie ander leiers in die trek, het te min van mekaar gehou om ooit een as 'n leier bo die ander te aanvaar. Uiteindelik is Maritz in die hoofkamp as die Regeringshoof agtergelaat, terwyl Uys en Potgieter elk 'n afsonderlike afdeling van die teen-aanvalmagte aangevoer het. Dit was 'n fatale verdeling. Op 6 April het die berede kommando na Umgungundlovu vertrek. Na drie dae het hulle op 'n groep Zoeloes afgekom wat huIle vir twee dae lank netjies om die bos gelei het en huIle onverhoeds in 'n lokvallaat vasloop het. Die Zoeloe-aanvoerder, Ndlela, het sy leer van 6,500 krygsmanne in twee divisies saamgetrek op die hange van 'n berg wat bekend was as eThaleni. Die vlakte aan die voet van die berg was met diep slote deurkruis en gevaarlik vir perderuiters.
Die Zoeloes het rustig gesit en snuif om die Trekkers uit te tart. Uys het tot die aanval oorgegaan en sy manne tot binne twintig tree van die Zoeloes gelei, afgeklim en gereed gemaak om te vuur. Die Zoeloes het opgespring om aan te val maar 'n sarsie koeels het hulle in hul spore laat omspring. Die Trekkers het hulle agtervolg en gevind dat hulle in 'n netjiese hinderlaag gelok was. Sewe Trekkers het gesneuwel terwyl hulle probeer uitkom het. Piet Uys is swaar gewond maar kon darem sy perd bereik. Terwyl hy nog 'n ander man wat sy perd verloor het op sy eie perd probeer help het, was hy reeds aan die doodbloei, en moes deur helpers weerskante van sy perd ondersteun word. In die besef dat hy sterwend was, het hy sy twee helpers bedank en hulle versoek om hulself te probeer red en aan te hou met veg. Hy het van sy perd afgeval, waarop sy helpers hom verlaat en weggejaag het. Sy veertienjarige seun, Dirk, het gesien hoedat die Zoeloes op sy vader toesak. Dit was een te veel vir hom. Hy het sy perd omgeruk, na sy sterwende vader gejaag en drie Zoeloes doodgeskiet, voordat hyself van sy perd geval en saam met sy vader gesterf het. Potgieter se afdeling van die kommando het intussen min uitgevoer. Die Zoeloe-aanvoerder het gou hierdie besluiteloosheid gemerk, en sy manne beveel om aan te val. Met 'n gekletter van skilde en sisgeluide het die Zoeloes aangestorm gekom. Potgieter en sy manne moes eenvoudig vlug. Vir twee uur lank het die Zoeloes hulle agterna gesit, en al die Trekkers se los perde en ammunisie gebuit. Daarna was hierdie kommando altyd as die Vlugkommando bekend, terwyl Potgieter en sy manne van lafhartigheid en besluiteloosheid beskuldig is. Tien lede van die kommando het in die aanval omgekom. Die ivoorhandelaars by Port Natal was ook verdeeld oor leierskap met twee opposisiegroepe aangevoer deur John Cane en Henry Ogle. Hulle het nietemin opgetrek en by Kranskop groot troppe vee aangekeer en van die familielede van die Zoeloes wat geveg het, gevange geneem. Die ivoorhandelaars het 'n tweede groep langs die kus opgestuur. Op die 17de April het hulle 'n Zoeloekraal met die naam Ndondakusaka naby die Tugelarivier- mond aangeval. Hulle het die kraal vernietig, maar is deur 'n Zoeloemag van 7,000 oorval. In die hitte van die stryd het Ogle se manne eenvoudig hul makkers verlaat en die wyk geneem. Toe die Zoeloes dit sien, was hul aanslae soveel feller, en het oor hul eie dooies verwoed aangestorm.
Een na die ander het die ivoorhandelaars gesterf. Cane, pyp in die mond, het moedig aangehou veg en toe hy val, was sy pyp nog in sy mond vasgeklem. Nog veertien ivoorjagters en 600 van hul inboorling volgelinge het gesterf. Dick King en twee ander jagters het ontsnap. Oral in die Trekkerkampe en by Port Natal was daar rou, verdriet en 'n gevoel van mismoedigheid. Op Salisbury-Eiland moes die oorblywende ivoorhandelaars met bitterheid aanskou hoe die Zoeloeleer die bosse rondom die plek waar Durban tans is, fynkam, elke huis en gehug vernietig en uitbrand en alles vat wat hulle onder oe kry. In die Trekkerkampe was die bittere beskuldigings van lafhartigheid teen die Vlugkommando so erg dat Potgieter en sy mense Natal vir goed verlaat het en koers ingeslaan het na Transvaak, die land wat hulle nog altyd wou bewoon. Die Natal-Trekkers moes maar geduldig weer hul geledere reorganiseer en hulle voorberei vir die stryd wat voorle.
|