PIETER RETIEF EN DIE ZOELOES

Terug in sy eie kamp het Potgieter min ander Trekkers gevind wat sy ingenomendheid met die Transvaal gedeel het. 'n Groot aantal nuwe Trekkers het uit die Kaap aangekom, insluitende manne soos Pieter Retief van die Winterberg, Pieter Jacobs van Beaufort-Wes, en Pieter Uys uit die distrik van Uitenhage. Nie een van hulle het nog die Transvaal gesien of iets daarvan geweet nie, maar byna almal het egter van Natal gehoor.

Reeds in 1834 het die boere van die Oos-Kaap, wat 'n algehele uittog verwag het, 'n kommissietrek georganiseer om Natal te verken en terug te rapporteer oor die moontlikheid om hulle daar te vestig. Piet Uys was die leier van hierdie kommissie-trek. Hulle het al langs die kus op gereis en die plek bereik waar Durban tans gelee is. 'n Klein groepie Britse jagters en handelaars wat hul basis daar gehad het, toe bekend as Port Natal, het reeds van die Zoeloes die reg verkry om in Natal te woon. Hulle het die idee van Trekkers uit die Kaap verwelkom, omdat die Trekkers die uitgestrekte dele wat deur die strooptogte van die Zoeloes en hul opperhoof, Shaka, verlate agtergelaat is, sou kon bewoon.

Shaka is in 1828 vermoor en sy opvolger, sy halfbroer Dingaan, het veel meer vredeliewend voorgekom. Op 'n boodskap van die kommissietrek waarin hulle hom gevra het of Natal beskikbaar was vir blanke vestiging, het hy gunstig geantwoord.

Die kommissie-trek het vol entoesiasme vir die mooi Natal teruggekeer na die Kaap. Die pragtige natuurskoon, vrugbaarheid, wye riviere en aangenarne atmosfeer, het hulle diep beindruk en hulle geesdriftige beskrywings van die mooi land het baie boere in die Oos-Kaap aangegryp. Potgieter moes tot sy teleurstelling ontdek dat die oorgrote meerderheid Trekkers se verbeelding deur Natal aangegryp was er sy pleidooi dat hulle hul in Transvaal moes vestig, het op dowe ore geval.

Teen hierdie tyd was Pieter Retief algemeen aanvaar as die hoofleier van dic trekbeweging. Op 6 Junie 1837 is hy formeel verkies as Goewerneur en Kommandant-generaal, met Maritz as President van die Volksraad.

Die voorneme was dat die Trekkers in Natal 'n republiek met 'n deeglik geordende regering tot stand sou bring, en hieroor het hulle lank beraadslaag. Potgieter en sy volgelinge het egter hul harte op die Transvaal gehad, en het ook op kerklike en ander gebiede van die groep onder leiding van Gerrit Maritz verskil.

Slegs die diplomasie van Pieter Retief het die Trekkers bymekaar gehou en vir Potgieter oorreed om die besluit van die meerderheid te aanvaar. Rusies oor die verdeling van die grootvee wat van die Matebeles afgeneem is, het nog steeds voortgeduur en Potgieter se mense het hulself so eenkant moontlik gehou en hoofsaaklik in die omgewing van Winburg gebly terwyl Retief, Maritz en Uys en hul volgelinge naby Thaba 'Nchu laer getrek net.

Daar was nog baie wat hulle om trent Natal moes leer. As lid van die kommissie-trek het Piet Uys in 1834 die majestueuse Drakensberge op die westelike horison gesien en gevrees dat dit vir die waens onmoontlik sou wees om daar oor te gaan. Om hierdie probleem op te los het Piet Retief vyf verkenners vooruit gestuur om ondersoek in te stel na 'n moontlike oorgang oor die berge. Na vier-en-twintig dae het hulle vrolik teruggekeer en die Trekkers meegedeel dat hulle nie minder as vyf moontlike plekke gevind het waar die waens sou kon oorgaan nie. 

Vanaf die vroegste tye het groot troppe wild heen-en-weer oor die Drakensberge getrek. In die somermaande het hulle op die hoe sentrale vlaktes kom wei en in die herfs het hulle ooswaarts getrek en die Drakensberge oorgesteek na die warmer dele van Natal waar hulle oorwinter het. Met die koms van die lente het hulle weer hul weg na die groot vlaktes teruggevind om in die soet jong gras te wei. Mettertyd het die diere al die maklikste roetes oor die bergreeks gevind en paaie uitgetrap wat die waens maklik sou kon volg.
Met hierdie inligting tot sy beskikkinghet Piet Retief 'n groep van vier-en-vyftig waens ooswaarts gelei na waar die platorand wegval in die lieflike, golwende land- skap van Natal. Op 7 Oktober 1837 het Retief en sy mense die voet van 'n kolossale sandsteen-landmerk bereik wat hulle die Kerkenberg genoem het omdat dit so statig gelyk het. Hier het vyftig van die waens 'n veilige kamp gevorm met Abraham Greyling in bevel.

Retief het met vier waens en veertien man verder ooswaarts gery om die roete te verken en probleme wat mag opduik met hul vestiging in Natal, te bestudeer.

Naby Kerkenberg het Retief-hulle die einde van die hoeveldvlaktes bereik en vir die eerste keer afgekyk op die mooi land, Natal - hul droomland - wat uitgestrek aan hul voete gele het soos 'n ontsaglike landkaart van asemrowende kleure.

"Vanaf die hoogtes van hierdie berge", het Retief geskryf, "het ek hierdie pragtige land aanskou - die mooiste wat ek ooit in Afrika gesien het".

Die manne het 'n paar uur gerus en droomverlore gestaar na die wonderlike land wat hul uiteindelike tuiste sou wees. Riviere het in die sonlig geglinster in hul kronkelende koers na die kus. Die lang gras het groen en wuiwend in die wind voor
hulle uitgestrek. Rustig en donkerpers het die Drakensberge gele. Hulle kon nie woorde vind om die skoonheid te beskryf nie. Hierdie rusplek, waar die uitsig so mooi was, het hulle
Blijde Vooruitzicht genoem, en daarna deur 'n maklike bergpas Natal binnegery. Hierdie pas is vandag bekend as Oudebergpas.

Na 'n stamperige, maar uiters interessante reis van negentig uur, het hulle by Port Natal aangekom waar hulle hartlik verwelkom is deur die klein gemeenskaI Britse ivoorjagters en handelaars. Hierdie mans, wat 'n afgesonderde en eensame bestaan gevoer het, was opreg vriendelik en verheug oor die vooruitsig dat die Trekkers hulle in Natal sou kom vestig.

Urelank het hulle in die water van die Durbanse baai see-koeie gejag, gedagtes gewissel en nuus van mekaar verneem. Die ivoorjagters het die Trekkers weer eens verseker dat die gebied suid van die Tugelarivier (die eintlike Natal, met Zoeloeland noord van die rivier) aan hulle toegese is deur beide Shaka en sy opvolger, Dingaan. Daar was dus hoegenaamd niks wat die Trekkers kon verhinder om hulle daar te vestig nie.

'n Hoflikheidsbesoek aan Dingaan was sekerlik nodig en indien hulle goeie betrekkinge kon aanknoop, was daar geen rede om te twyfel dat die Zoeloes die Trekkers in Natal sou aanvaar nie. Die wereld was tog in elk geval geheel en al onbewoon. Die oorspronklike Bantoebevolking het of die wyk geneem of is in Shaka se tyd uitgemoor toe die Zoeloemagte al sterker geword het. Die Zoeloes het egter nooit self probeer om hulle in die gebied te vestig nie - dit was 'n niemandsland.

Uit Port Natal het Retief 'n brief aan Dingaan gestuur waarin hy gese het dat hy die Zoeloekoning wou besoek om hul vestiging in Natal met hom te bespreek. Terselfdertyd het Retief twee van sy manskappe na die hooflaer teruggestuur met 'n brief waarin hy die Trekkers verseker het dat Natal 'n ope land was wat wag om hulle te verwelkom. Hulle moes intussen bergaf gaan terwyl hy Dingaan besoek. Hierdie manne het van die heerlike Natalse vrugte met hulle saamgeneem na die hooflaer.

Retief het sewe van sy manne by die Tugelarivier agtergelaat en met vyf volgelinge en een Britse ivoorjagter, ene Thomas Holstead, noordwaarts gery oor die heuwels van Zoeloeland totdat hulle Dingaan se groot stat, bekend as Umgungundlovu, op 5 November bereik het. Die geharde, songebrande Trekkers was verstom oor die gesig wat hul oe begroet het. In die hele Afrika was daar nie 'n hutstat wat meer barbaars in voorkoms was as hierdie een nie.

Dingaan het die stat gestig kort na sy sluipmoord op sy halfbroer Shaka. Die naam Umgungundlovu (die geheime sameswering van die olifant) het verwys na die intrige rondom die sluipmoord. Met die mag van die Zoeloes op sy hoogste, as die grootste militere stam in die hele Afrika, het Umgungundlovu soos 'n miernes gelyk.

Groot troppe beeste is in die stat gehuisves. Regimente van die Zoeloeleer het gedurig by hul koning waggestaan. Skilde en assegaaie is gemaak ; vroue het die omliggende landerye bewerk, water aangedra en bier gemaak. Onder 'n groot boom in een van die veekrale het Dingaan sy hof gehou. Hier het hy na pleidooie geluister en uitspraak gegee; boetes ontvang en die doodvonnis opgele oor die wat hom gegrief het. Hoewel hy nie die bloeddorstige reputasie van sy broer gehad het nie, het hy nogtans sy laksmanne besig gehou.
Die Zoeloes het geen tronke gehad nie, en net oorkant die hutstat was daar 'n koppie van verskrikking waar veroordeeldes om die lewe gebring is en waar hienas en roofvoels rondgedwaal het. Die koppie was bekend as Kwamatiwana, so genoem na 'n ongelukkige hoof man wat sy dood daar teegekom het. Reg oorkant Kwamatiwana was 'n ander koppie waar 'n Engelse sendeling, eerwaarde Francis Owen, sy kamp gehad het en probeer het om die lig van die Christendom na die barbaarse plek uit te dra.

Retief-hulle het in Dingaan 'n fris, welgevoede en intelligente man gevind mel die gelaatstrekke van 'n Zoeloe-aristokraat en niks vyandigs in sy houding nie Hy het die besoekers vriendlik ontvang en hulle byna oorweldig met sy hartlikheid Duisende opgetooide mans en vroue het danse vir die gaste uitgevoer, terwy spesiaa1-afgerigte osse, pragtig versier, op die maat van die musiek, passies uit. gevoer het.

Dingaan het hoflik geluister toe Retief die wens uitgespreek het om hulle in Natal te vestig. Hy het geen vyandigheid getoon nie, maar net een klagte gehad. Kortgelede het veediewe strooptogte op Zoeloe-kuddes onder die Drakensberge uitgevoer. Die diewe het op goeie perde gery en was soos blankes aangetrek. Hulle het ook luidkeels uitgeroep dat hulle maBhunu (boere) was. Beide Dingaan en Retief het vermoed dat die diewe manne van die Tlokwastam onder hoofmar Sekonyela was. Dingaan het voorgestel dat die Trekkers hul onskuld kon bewys deur die gesteelde vee vir hom terug te kry. Retief het ingestem en hy en sy manne het daarna na die hooflaer vertrek.

Nadat Retief venrek het, het Dingaan en sy raadgewers urelank die koms van die Trekkers bespreek. Gedurende hul onlangse strooptogte op die Matebeles het hulle gehoor van die gevegte tussen die Trekkers en Mzilikazi. Die Zoeloe-spioene het ook aan Dingaan vetel van die groot aantal Trekkers en dit het horn erg ontstel. Net soos Shaka, was Dingaan tevrede om blanke handelaars en jagters in Natal te aanvaar maar die toestroming van sulke groot getalle Trekkers wat permanent in Natal wou bly, was 'n ander saak.

Terwyl Dingaan in Umgungundlovu beraadslaag het, het een van die grootste gebeure in die verhaal van Suidelike Afrika horn afgespeel. Die boodskappers wat Retief uit Port Natal gestuur het, het die Trekker-laer by Kerkenberg veilig bereik op die 11de November. Die goeie nuus dat Natal tot hulle beskikking was, en dat Retief hulle aanraai om dadelik bergaf te gaan; die voorsmaak van die heerlike vrugte en die tyding dat die bergpasse maklik begaanbaar was, het die Trekkers met nuwe hoop en vreugde gevul.

Die volgende dag was 'n Sondag en ook Retief se 57ste verjaardag. Sy 22- jarige dogter, Deborah, het haar vader se naam met groen verf op 'n stuk uit staande rots in die berg geskilder en hierdie gedenkteken bestaan vandag nog. Die trekkers het die dag deurgebring as 'n dag van danksegging, rus en voorbereiding. Die volgende more het hulle die laer begin afbreek en die waens is tot op die grens van die hoe plato geneem. Hier het die Trekkers oornag en teen dagbreek op die more van die 14de was almal wakker en opgewonde. So het die groot skouspel van die aftog van die Drakensberge begin.
Erasmus Smit, die onderwyser, het in sy dagboek geskryf: "Vroeg die more het ons 23 waens ingespan om die hoe Drakensberge af te gaan. Na veel gesukkel, en deur gebruik te maak van wiel-kettings, het agtien waens teen sononder onder uitgekom. Die van ons vriend, W. Prinsloo, het aan die begin van die moeilike aftog omgeslaan. 'n Stel kettings is al wat in die slag gebly het."

Elke dag het nog meer waens die berg afgegaan. Die goeie nuus is tot by die verste Trekkerkampe gedra, en groot blydskap het oral geheers. Die een wa na die ander het oor die hoe plato aangerol en is bergaf terwyl die vroue en kinders te voet gestap het en Trekkenooientjies gly-gly gevorder het sodat galante jong- kerels hulle kon help. Almal was uitgelate, het grappies gemaak en geskerts, en gedroom oor die mooi nuwe tuistes wat hulle binnekort sou bou.

Op 27 November het Piet Retief weer by hulle aangesluit en hulle breedvoerig ingelig omtrent die ontmoeting met Dingaan, asook van sy belofte om die gesteelde vee terug te kry .Hierdie taak het baie maklik geblyk te wees.



Terwyl die Trekkers aan die voet van die berge gewag het dat al die ander waens veilig moes afkom, het Retief 'n sterk geselskap op die been gekry en op 24 Desember teruggery na die sentrale vlaktes vir 'n voorafgereelde ontmoeting met Sekonyela by die sendingstasie van eerwaarde Allison.

Daniel Bezuidenhout het eenvoudig na Sekonyela gestap met 'n paar blink nuwe boeie en aangebied om hom te wys hoe die mooi blink goed as versiering gedra kon word. In 'n oogwink is die boeie toegeknip en die hoof man was hul gevangene. Hy het dadelik erken dat hy die vee gesteel het, en 700 stuks grootvee, 63 perde en 11 gewere teruggegee waarop die Trekkers hom losgelaat het. Triomfantlik het Retief na die laer aan die voet van die Drakensberge teruggekeer.

Alles het vlot verloop vir die Trekkers. Meer as 'n duisend waens was reeds in Natal en op verskeie plekke is kamp opgeslaan in afwagting van die finale tyding dat hulle maar hul plase kon uitsoek. Baie mans het reeds die wereld rondom hulle verken en oorweeg waar hulle sou woon.

Retief het gou sy sake in orde gebring en na Umgungundlovu vertrek met die gesteelde vee en 69 man, 'n paar jong seuns (almal vrywilligers) en dertig bediendes. Hulle het op die 3de Februarie daar aangekom en is weer hartlik deur Dingaan ontvang. Dingaan het intussen sy hele leer byeengebring om 'n dans ter ere van die Trekkers uit te voer. Daar was geen sweem van kwaadwilligheid aan die kant van die Zoeloes te bespeur nie.

Sedert Retief se eerste besoek het Dingaan probeer besluit wat hy met die Trekkers moes doen. Om die grusame gebeure wat gevolg het beter te kan verstaan, moet mens jouself vir 'n oomblik in Dingaan se posisie indink. Al die inligting wat hy van sy spioene en ander informante ontvang het, het daarop gedui dat die Trekkers die gedugste mag was wat die Zoeloes nog ooit teegekom het; hul uitnemende ruiterkuns en akkurate geweervuur; hul beslistheid - dit alles het van hul mag getuig. Dingaan het 'n paar van sy hoe amptenare met Retief saamgestuur na Sekonyela en dit was hulle wat Dingaan ingelig het om trent die groot trek oor die Drakensberge en hoedat die Trekkers sonder formele toestemming van Dingaan reeds oral in Natal besig was om vir hulle plase uit te soek.

Wat moes hy doen? 'n Vreedsame aanvaarding van die Trekkers sou die vestiging van 'n magtige volk op die grense van Zoeloeland beteken, terwyl 'n openlike botsing met die Trekkers sou neerkom op 'n kragmeting tussen primitiewe spies-draende krygsmanne en deskundige skuts gewapen met goeie gewere op uitstekende ryperde. Dingaan het die probleem deeglik met sy hoofmanne bespreek en hulle het besluit om oorlog te maak. Die Trekkers moes onverwags oorval word voordat hulle hul gewere kon gebruik. Sodoende sou hulle uitgewis kon word.

In sy kamp daar naby het eerwaarde Francis Owen geluister na die geluide van die groot dans - daar was iets onheilspellends in die lug wat hom verontrus het. Sy jong tolk, William Wood, het die Trekkers probeer waarsku, maar alles het so vriendelik en vrolik daaraan toegegaan dat niemand hulle aan sy waarskuwings gesteur het nie.

Op die 4de Februarie het Dingaan almal tevrede gestel toe hy 'n formele dokument, geteken deur getuies, aan Retief gegee het waarin die land tussen die Tugela- en Umsimvuburivier aan die Trekkers oorgedra is. Die stuk land was nog bewoon deur onafhanklike stamme soos die Pondo's, maar is nou goedsmoeds aan die Trekkers toegese, net om Retief en sy mense om die bos te lei.

Daardie aand het Retief en sy manne voorbereidsels getref vir hul terugtog die volgende dag en hulle het tot laat die aand gesels en gedroom oor hul nuwe plase en hoe opgewonde hul vriende en families sou wees die wonderlike nuwe land.

Teen dagbreek was Umgungundlovu weer in rep en roer en is 'n laaste dans en groot afskeidsfees vir die Trekkers aangebied. Dingaan het in sy groot stoel gesit met die Trekkers om hom geskaar, terwyl hordes krygsmanne om hulle gedans het. Terwyl hy opgewek met die Trekkers gesels het, het hy stilletjies 'n boodskapper na Francis Owen gestuur om vir hom en sy mense te laat weet dat hulle niks het om te vrees nie, hoewel die Zoeloes van plan was om al die Trekkers dood te maak.

Meteens het Dingaan uit sy stoel opgespring en vir sy manne geskree: "Gryp hulle!" Die volgende oomblik het 'n grusame tragedie hom afgespeel. Thomas Holstead, wat as tolk opgetree het, het waarskuwend geskree: "Dis klaar met ons", en toe in Zoeloetaal: "Laat my met die koning praat." Dingaan het met 'n swaai van sy arm vir hom gewys om pad te gee. Die Trekkers was weerloos. Oudergewoonte het hulle hul gewere buite die stat laat bly. 'n Paar Trekkers het nog hul jagmesse by hulle gehad en het wanhopig probeer om hulself daarmee te verdedig. Halstead kon net twee krygsmanne met sy mes steek voordat hy self neergevel is. Die Trekkers is deur die skreeuende Zoeloes buitentoe gesleep, na Hlomo Amabuto, die heuwel van teregstelling, waar hulle doodgeslaan is, terwyl Retief geforseer is om alles te aanskou. Heellaaste het hulle hom ook vermoor, en die liggame daar gelaat vir die jakkalse en die hienas. Retief se hart is uit sy borskas gesny en deur bygelowige Zoeloes op die pad waarmee die Trekkers gekom het, begrawe. Retief se dertienjarige seun was een van die slagoffers.