|
|
|
* Hierdie beroemde Voortrekker se van word dikwels "Trichardt" gespel. Dit is egter foutief, omdat dit op die veronderstelling berus dat sy voorvaders van Franse afkoms was. Dit ly geen twyfel nie dat ons Voortrekker se oupa van Swede afkomstig was, en die familienaam is dus van Sweedse oorsprong. Dit was onvermydelik dat sommige leiers van die onderskeie trekgroepe vanwee hul sterk persoonlikhede as hooffigure na vore sou tree. Een van hierdie manne was Andries Hendrik Potgieter, 'n boer uit Tarka se wereld in die Kaap. Potgieter was toe 'n man van ongeveer vier-en-veertig jaar. Hy was 'n lang man met 'n ruwe voorkoms en 'n vriendelike geaardheid, wat gesag uitgeoefen het oor 'n groot groep familiebetrekkinge, afhanklikes en persone wat in hom 'n man gesien het op wie mens kon vertrou. In hul plaaswonings het Potgieter en sy vriende die plan om na die noorde te trek, bespreek. Min van hulle het werklik eerstehandse kennis van die binneland gehad en hulle was dit eens dat 'n geselskap vooruit sou gaan om die land te verken en vas te stel wat die mag van die inboorlingstamme was. Hulle moes ook uitvind of daar 'n handelsroete na die Portugese gemeenskappe aan die ooskus bestaan sodat hulle produkte uitgevoer en verruil kon word vir lewensbelangrike voorrade soos klerasie, vuurwapens, suiker, koffie en medisyne. Twee van Potgieter se vriende het sulke geselskappe gelei. Hulle was Johannes van Rensburg en Louis Trigard, die kleinseun van 'n Sweedse setlaar aan die Kaap. Elkeen het nege waens en verskeie families by hulle gehad. Gedurende die eerste deel van hierdie lang trek het hu1le bymekaar gebly, vroeg in 1836 die grense van die Kaapkolonie oorgesteek en koers gekry oor die groot vlaktes van die hoeveld waar die lang groen somergras groot troppe wild gehuisves het. Die Oranje Vrystaat soos ons dit vandag ken, was destyds feitlik onbewoon deur mense. Die agtien waens het sonder noemenswaardige teespoed in April die Vaalrivier by Elandspruit oorgesteek.
Anderkant die Vaalrivier het die Trekkers met die grootste versigtigheid verder noord getrek. In hierdie gebied kon
hulle enige tyd Zoeloebendes of die Matabeles van hoofman Mzilikazi teekom wat op strooptogte uit was, en hulle het daarom deurentyd vir veiligheid naby mekaar gebly.
Uiteindelik het Van Rensburg en sy trek die suidelike hange van die Soutpansberg bereik. Sonder om vir Trigard te wag het hy ooswaarts gedraai. Daar was 'n ou handelsroete wat hulle deur 'n wonderlike wereld vol grootwild gevoer het. Vandag is dit die noordelikste deel van die Kruger Wildtuin. Hierdie pad, het hulle gehoop, sou hulle lei na die see en 'n hawestad. Louis Trigard het die Soutpansberge 'n paar weke na Van Rensburg se vertrek bereik. Omdat hy 'n meer versigtige man was, het hy beveel dat hulle laer opslaan sodat die osse kon rus. Hier het hy ook dadelik mielies en koring gesaai om die grond te toets en hul voedselvoorrade aan te vul. In Junie 1836 het Andries Hendrik Potgieter en elf manskappe op die Trekkers se spoor die laer binnegery, angstig om al die nuus te verneem. Saans om die kampvure het hierdie ruwe verkenners van die wildernis oor hul ondervindings gesels, hul indrukke van die land bespreek en gewonder wat van die haastige Van Rensburg geword het. Bespiegelinge oor waar Van Rensburg en sy mense hulle bevind, was van groot belang vir heel party lede van Potgieter se groep. Hulle het familie in Van Rensburg se trek gehad en wou by hulle aansluit. Na 'n lang rustydperk het Potgieter en 'n groep volgelinge verder noord getrek tot oor die Limpopo om 'n gedeelte van wat vandag Rhodesie is, te verken. Trigard het die grootste deel van sy trek aan die voet van die Soutpansberge agtergelaat en met 'n groep manne Van Rensburg se spoor gevolg. Dit moes 'n opwindende reis deur die Bosveld gewees het, met die moontlikheid van 'n nuwe wonder om elke draai en die nagte vol van die gebrul van leeus en die gelag van hienas. Behalwe onrusbarende gerugte kon Trigard niks omtrent Van Rensburg en sy trek tewete kom nie. Die waspore het in die bosse weggeraak en niks is ooit weer van hulle gesien nie. Erens agter daardie eensame ry heuwels moes Van Rensburg-hulle bendes Shanganekrygsmanne teegekom het. Wat presies gebeur het, sal niemand ooit weet nie want nie 'n enkele lid van die trek het oorgebly om die verhaal te vertel nie. Nie eens 'n spoor van hul besittings is ooit gevind nie. Hartseer en ontstel deur gerugte en waarskuwings van die inboorlinge, het Trigard en sy manne teruggekeer na die laer aan die voet van die Soutpansberge. Hier het Potgieter weer by hulle kom aansluit nadat hy die gebied verder noord verken het, en moes hy verneem van die gerugte oor die lot van die Van Rensburg-trek. Met hierdie treurige nuus om sy geesdrif vir die nuwe land te demp, het Potgieter weer suidwaarts gehaas om hom by die hoofgroep van die Trekkers wat nou die Kaap verlaat het, aan te sluit. Trigard en sy mense het in die laer onder die Soutpansberge gebly tot Augustus 1837 om te oes en te jag, die wereld te verken en weer na die Van Rensburg-trek te soek. Trigard het ook 'n kleurling-boodskapper, ene Gabriel Buys, na die Portugese in Lourenzo Marques gestuur met 'n brief waarin hy sy begeerte uitspreek om handelsbetrekkinge aan te knoop. Die Portugese het daarop twee kleurlingsoldate deur die myle gevaarlike bos gestuur om die Trekkers na die kus by Lourenzo Marques te lei. So het een van die markwaardigste reise in die geskiedenis van Suidelike Afrika begin. Met Trigard aan die voorpunt, het sy groep (ses-en-veertig lede van agt families) suidwaarts begin trek na die bergagtige landstreek wat uitgekyk het op 'n groot rivier waar daar soveel olifante was dat die Trekkers dit dadelik die Olifantsrivier gedoop het. Trigard kon 'n makliker roete verder noord oor die berge na Lourenzo Marques gevind het, maar hy wou waarskynlik ten alle koste die beboste dele waar Van Rensburg en sy mense uitgewis is, vermy, en sodoende het hy in een van die moeilikste bergreekse in die hele Transvaal beland. Niksvermoedend het Trigard sy mense langs die walle van die rivier af gelei in die geloof dat so 'n groot rivier sekerlik 'n wye pad deur die berge sou gespoel het. Maar die rivier het deur 'n diep kloof geloop met ontsaglike afgronde weerskante en massiewe rotsblokke op die bedding. In 'n poging om 'n weg te vind, moes die waens die rivier dertien keer in vyf dae kruis. Die tog het al moeiliker geword en in 'n aanhoudende stryd ontwikkel om die swaargelaaide waens oor 'n roete te neem wat die meeste mense as totaal onmoontlik sou beskou.
Uiteindelik is hulle gedwing om die rivier te verlaat. Met byna bomenslike inspanning is die waens teen die steiltes uitgetrek totdat hulle die kruin bereik het naby 'n fonteintjie wat vandag nog bekend staan as Lebese ('n naam wat die inboorlinge aan Louis Trigard gegee het). Hiervandaan kon die Trekkers vir die eerste keer die uitgestrekte Bosveld, wat soos 'n geheimsinnige oseaan van bosse aan hul voete gele het, uit die hoogte aanskou.
Dit was die sesde Februarie 1838 toe die Trekkers weer die wiele laat rol het op die volgende skof van die 200 myl-lange trek deur die Bosveld na die see by Lourenzo Marques. Die wereld was plat en dit het gelyk of die maklikste deel van die trek nou voorgele het. Ongelukkig was dit ook die gevaarlikste deel. Tsetse-vliee het die osse aangeval en hulle het begin swak word van Nagana, die siekte wat deur die vliee gedra word. Muskiete het terselfdertyd die Trekkers aangeval, en koors het begin uitbreek. Vasberade om Lourenzo Marques te bereik voordat die siektes die oorhand kry , het hulle so vinnig as moontlik vetder getrek.
Op 13 April 1838 het die Trekkers Lourenzo Marques bereik. Saluutskote is deur hulle afgevuur as 'n groet en eerbetoon vir die Portugese kommandeur wat hulle so vriendelik ontvang het. Nadat bulle onthaal is, is 'n verblyfplek vir hulle aangewys, en dit bet gelyk of hul moeilikhede nou uiteindelik verby was. Dit was egter nie die geval nie.
|